top of page

KRY ‘n KYKIE IN DIE MEESTE VAN ONS BEDIENINGE:

Dieselfde Werkgewer - verskillende opdragte.



Musiekbediening

Aanbidding is een van die 5 pilare van ons gemeente. Alhoewel aanbidding meer as sing is, is sing ‘n spesiale manier van aanbidding, wat ons as gemeente sáám doen. Indien jy ‘n instrument kan bespeel, of sangtalent ontvang het - meld aan by i-desk, vir ‘n oudisie!


Tegniesebediening

Alhoewel ons “kerk” so spontaan en organies as moontlik wil hou, speel tegnologie tog ‘n belangrike rol in ons lewens. Om effektief te kommunikeer in ons dag en tyd, verg tegnologie. Indien jy tegnies vaardig is, meld aan by die i-desk, ons sal jou help met indiens-opleiding.


Dans & Drama-bediening

Gebruik jou gawe van kreatiwiteit om die Here se naam te loof en mense se harte te raak. Basiese vaardighede is nodig, maar ons oefen tot jy dit regkry! Meld aan by die i-desk en probeer dit!


Barmhartigheids-uitreike

Ons is ‘n “verskilmaak-gemeente” en ons gee geweldig om oor ons gemeenskap. Buiten die week-tot-week aktiwiteite waarin ons glo ons Rustenburg ‘n beter plek maak, reik ons ook eenmaal per maand uit na ander “verskilmaak-plekke” soos ouetehuise, kinderhuise, huise vir gestremdes, karwagte, hospitale ens. Wees deel hiervan! Meld aan by die i-desk.


Helping Hands

Ons barmhartigheidspan sien om na persone in nood en diegene wat tekorte in die gesig staar. Ons is afhanklik van manne en vroue met gróót omgee-harte, maar ook die vermoë om te kan onderskei tussen werklike nood en simptomatiese nood. En soms het ons sommer net hande en voete nodig wat kos en klere kan optel, uitsorteer, inpak, uitpak of wegpak! Kom help ons - die nood is groot.


Intersessie

Hier gebruik ons die magtige krag van gebed om die wêreld te verander. En ons glo wérklik daar IS krag in gebed. Meld aan vir enige van hierdie gebeds-opsies:

24/7 Gebedsketting | As iemand ‘n versoek deurstuur na ons gebedslyn, bid jy onmiddellik en ernstig vir daardie versoek - en hou aan bid!

Gebedsgroep voor en na dienste | Hierdie groep glo nie net dat gebed noodsaaklik is vir ‘n Geesvervulde erediens nie, maar wil ook beskikbaar wees om vir mense met behoeftes te bid.

Deurbid Donderdae | Donderdae tussen 3-5nm kom hierdie groep saam om stil te word, eenkant te kom om God se stem te hoor aangaande persone, sake en omstandighede. Hulle salf, bid en bedien persone wat behoefte het. Hulle luister na Woorde van wysheid, profesie, bemoediging of vermaning - en gee dit deur soos nodig.

Bevryding Span | Soms is dit nodig dat (na deeglike gesprekvoering en deurbid), persone vir bevryding moet gaan. Hierdie span maak huise skoon van okkultiese aktiwiteite, dryf duiwels en demone uit, en help persone om vry en vol van die Gees te kan leef.

Vrydae Gebedsgroepe | Ons verskeie manne en vroue groepies wat vroeg-oggend saamkom om voor werk God se aangesig te soek. Ons bid vir mekaar, ons stad, ons land en ons wêreld. Die eerste Vrydag van elke maand, kom die manne almal saam in die Kommunio en die vroue in die gebeds-kapél vanaf 5-6vm.

Besigheidsgebed | Ons gee om vir ons sakemanne en -vroue. Hulle is werkskeppers en het groot verantwoordelikheid om kos op die tafels van hul werknemers te plaas. Hulle dienslewering maak ons lewens, en Rustenburg beter. As hulle swaarkry, kry Rustenburg swaar. Op uitnodiging, gaan bid ons vir hulle, salf hul besighede en bid vir hul werkers. (Sien ook Entrepreneurs Forum hieronder).

Bergbid Saterdae | Van tyd-tot-tyd klim groepe manne, vroue, gesinne, Leefgroepe, selfs kinders of tieners, die berg uit om te gaan bid vir Rustenburg, mekaar en spesiale sake.


Jeugbediening

Meeste persone wat kragtig deur God gebruik was in die Bybel - was jongmense! Ons wil tieners WEN vir Jesus, TOERUS vir dissipelskap, en hulle UITSTUUR as dissipelmakers.

• Sondae tydens OggendKerk bied ons The Journey aan, ons “katkisasie” waar tieners diep die Woord van God leerken.

• Tiener Leefgroep Woensdae 18:30 by die kerkgebou.

• Dissipelgroepe vir ouens en meisies apart, regdeur die week waar hulle toegerus word met Woordkennis, maar ook uitgedaag word om accountable te wees vir hulle lewenskeuses.

• Vrydae is ons spesiale “tiener-aand” waar ons in groot getalle Jesus se lof besing, in kleingroep groei, grootgaan op pret en sosiale interaksie, en sommer net ons tienerwees GENIET in ‘n skoon en veilige omgewing.

• Sondae AandKerk is meer kontemporêr en loud as OggendKerk, juis dat ons tieners en jongmense lekker kan aanklank vind. Ons wil alle hindernisse uit die weg ruim, dat ons opkomende generasie, VOLLEDIG oorgegee kan word aan Jesus.

• Kampe, kursusse, leierskap-opleiding, uitreike, bediening by skole, one-on-one sessies, gesprekke met ouers — en vele meer, maak deel uit van ons bediening aan tieners en hul gesinne. Indien jy wil deelwees van ons 180-crew, meld aan!


Vrouebediening

Ons bederf graag ons dames, terwyl ons hulle toerus en inspireer op kreatiewe wyses.


Mannebediening

Statistiek wys as die pa in die huis die Here dien, kanse 75% is dat die kinders ook as volwassenes die Here sal dien. Ons rus die manne toe om beter dissipels, eggenote en gemeenskapsleiers te wees.


Kinderbediening

Elke kind moet deeglik toegerus word met kennis van God se Woord en liefde vir Jesus. Ons wek ‘n nuwe generasie op om leiers en waardige heersers te wees.


Seniorbediening

Ons eer en salueer ons Seniors vir jare se

voorloop, lasdra en hul kant bring.


Mosaïc

Ons bied versorging in gebrokenheid.


Berading

Ons bied sielsgenesing vir daardie seer wat aanhou knou.


Huisbesoek

Hospitaal, sieke en tuisbesoeke, indien ons weet van jou behoefte.


Gasvryheid

Het jy n glimlag wat ALMAL laat welkom en tuis voel? Hierdie is die bediening vir jou.


So kom skakel in en bou in die Koningkryk


 

Groete

Agapé Gemeente

0 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page